KWAZULU-NATAL. – ‘n Vyfjarige meisie is Maandag in ‘n ernstige toestand in ‘n hospitaal aan die Suidkus opgeneem nadat sy byna by ‘n hotel in Scottburgh verdrink het.
Kelsey-Jae Maerick, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, sê die kind het in die hotel se swembad in die moeilikheid beland. Personeel van die kliniek op die perseel het onmiddellik kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas en haar suksesvol bygebring. Sy is op die toneel gestabiliseer en deur ‘n gevorderde lewensondersteuningsparamedikus van IPSS Medical Rescue na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer.
Volgens Maerick is dit die tweede byna-verdrinkingsvoorval waarop IPSS Medical Rescue Maandag gereageer het. Sy sê die vroeë toepassing van KPR het weer eens ‘n ernstiger uitkoms voorkom.





