GAUTENG. – Altesaam 70 sinkhuise is Saterdagmiddag in die Siblicon- informele nedersetting naby Sefako Makgatho-rylaan (voorheen Zambezi-rylaan) in Derdepoort in ‘n brand vernietig. Meer as 150 gesinne is deur die verwoestende brand haweloos gelaat.
Nana Radebe-Kgiba, Stad Tshwane se nooddienste-woordvoerder, sê in ‘n verklaring nooddienste is net ná 13:00 ontbied, waarna brandbestrydingseenhede van Silverton-, Innesdale- en Wonderboom-brandweerstasies na die toneel gestuur is. Met hulle aankoms het die spanne aan die werk gespring om die brand, wat reeds vinnig tussen die diggepakte huise versprei het, te blus. Radebe-Kgiba het bevestig dat al die inwoners betyds uit hul huise kon kom en dat geen beserings of sterftes aangemeld is nie.
Die noodspanne het sistematies gewerk om die vuur te isoleer en die intense hitte en rook te beheer. Deur goed gekoördineerde optrede kon die brand binne ‘n kort tydjie onder beheer gebring word, wat verhoed het dat nabygeleë strukture ook beskadig word. Brandbestryders het nog nadat die brand geblus is op die toneel agtergebly om te verseker dat alle smeulende kole finaal geblus is.
Die stad het inwoners intussen gemaan om versigtig te wees waneer verwarmingsapparate gebruik word.





