KWAZULU-NATAL. – ’n 72-jarige man in ’n rolstoel is van die straat na die Prince Mshiyeni-hospitaal geneem. Volgens The Elders Voice KZN is die bejaarde man in ’n haglike toestand langs Kingsburgh Mall aangetref.
The Elders Voice KZN sê die man is glo van Durban af gebring en op straat gebruik om te bedel. Toe hulpverleners hom aantref, was hy volgens die organisasie met ontlasting bedek en het hy wonde gehad. Luyande Meyer en Alta van Heart of Toti het hom langs die pad versorg, hom gewas, sy wonde skoongemaak en hom in skoon klere geklee voordat hy hospitaal toe geneem is. Daar is aanvanklik vir ’n staatsambulans gewag, maar toe dit donker word en die temperatuur daal, is hulp vir ’n private ambulans gevra. Volgens The Elders Voice KZN was daar egter geen private ambulans beskikbaar nie. Konrad van Faithmed het uiteindelik gehelp en ’n ambulans gereël waarmee die man na Prince Mshiyeni-hospitaal geneem is. Diegene wat die redding moontlik gemaak het, is bedank.
The Elders Voice KZN sê die man se omstandighede het ’n groep mense aangespoor om sy waardigheid te herstel en te verseker dat hy mediese sorg ontvang. Die organisasie het ook ’n beroep op mense gedoen om na kwesbare bejaardes om te sien en hulle met waardigheid te behandel.

