WES-KAAP. – Anganathi Potwana (26) en Likhona Lutango (22) van Riebeek-Kasteel het gister vir borgaansoek in die moordsaak van Mickey Ontong (63) wat op Hermon plaasgevind het, in die Wellington-landdroshof verskyn. Borg aan die twee beskuldigdes is nie toegestaan nie en die saak is na 9 November uitgestel.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die twee mans is vir moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede wat op 12 Oktober plaasgevind het, aangekla.
Natabazalila sê Potwana was aan Ontong bekend omdat hy ‘n verhouding met haar niggie gehad het. Die staat beweer Ontong was alleen tuis toe die twee beskuldigdes haar huis betree en haar glo verwurg het. Hulle het glo daarna van haar eiendom gesteel.
Daar is verder aan die hof voorgehou die oorledene se kleinseun (10) het van die skool af tuisgekom, terwyl die twee beskuldigdes steeds in die huis was. Hulle het na bewering die deur vir hom oopgemaak nadat hy verskeie keer geklop het. Hy is in die huis toegelaat waar hy sy ouma op die grond onder ‘n bed versteek gesien lê het.
Potwana en Lutango het hom na bewering vasgebind en hom met ‘n lap in sy mond stilgemaak. Terwyl hulle die huis glo verder deursoek het, kon die seun sy voete loswikkel en op ‘n tafel klim om ‘n deur oop te maak, waarna hy na buite gehadloop het. Hy is deur lede van die gemeenskap gehelp en die polisie is ontbied.
Ntabazalila sê een van die beskuldigdes is onderweg na Riebeeck-Kasteel in hegtenis geneem en sy makker is later dieselfde dag op dié dorp vasgetrek.
Die borgaansoek is tot 9 November uitgestel.
Volgens Action Society was Ontong ‘n steunpilaar in haar gemeenskap wat ‘n sopkombuis bedryf het. Die staat glo dit het ‘n sterk saak omdat items wat aan Ontong behoort het, ten tye van inhegtenisneming in die besit van die twee beskuldigdes gevind is. ‘n Ooggetuie het vertel die seun het uit die huis gehardloop en gesmoord vir hulp uitgeroep. Sy hande was met ‘n selfoonkoord vasgebind en ‘n lap was in sy mond gedruk. Ontong se liggaam met wurgmerke om die nek is toe gevind.
Colleen Wolmarans van Action Society sê die hof wag nog vir die verslag van die nadoodse ondersoek, die DNS-resultate van die slagoffer se klere en foto’s van die misdaadtoneel.
Bronne: NVG en Action Society
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





