LIMPOPO. – ‘n Rooms-Katolieke priester (38) is Woensdagoggend in die kerk in Aguerepark, Tzaneen, doodgeskiet. Die polisie is op soek na ‘n onbekende verdagte.
Kol. Malesela Ledwaba sê die oorledene, wie se naam weerhou word, is omstreeks 07:00 die oggend doodgeskiet.
Die oorledene is na die oggendgebed na ‘n aantrekkamer. Hy is na bewering deur die verdagte gevolg en twee keer in die kop geskiet. Die verdagte het van die toneel gevlug.
Nooddienste en die polisie was vinnig op die toneel. Die oorledene is na ‘n hospitaal geneem, maar is met aankoms dood verklaar.
Die polisie se moord-en-roof-eenheid sal die ondersoek in opdrag van lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris, doen. Die motief vir die moord is tans nog onbekend.
Enigiemand met inligting word gevra om lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 of AO Phaladi Mokola by 082 749 2233 te bel. Inligting sal vertroulik hanteer word.





