OOS-KAAP. – Drie persone het die naweek hulle lewens verloor, vermoedelik as gevolg van onwettige elektriese verbindings. In al drie die afsonderlike gevalle het die polisie ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer.
Kapt. André Beetge sê die publiek word versoek om nie elektrisiteit onwettig te koppel nie.
Saterdag het ‘n huiseienaar in Kuyga, Greenbushes, omstreeks 02:00 ondersoek ingestel na haar honde wat blaf en haar huurder (26) leweloos op die dak aangetref. Hy het elektriese drade in sy hande gehad. Daar word vermoed hy wou elektrisiteit vir die woonstel opkoppel en is doodgeskok. Kabegapark-polisie ondersoek die voorval.
Omstreeks 21:00 is ‘n vrou (24) in Rabie-woonbuurt, Wells Estate doodgeskok toe sy gehurk en aan ‘n onwettige verbinding geraak het. Swartkops-polisie ondersoek die voorval.
Sondagoggend omstreeks 04:30 het ‘n meisie (18) wat saam met vriende gestap het, doodgeskok toe sy vermoedelik op ‘n onwettige verbinding getrap het. Een van haar mansvriende het haar probeer help, maar het wegbeweeg toe hy ook geskok is. Chatty-polisie ondersoek die voorval.





