VRYSTAAT. – ‘n Jong vrou (19) het in die hospitaal gesterf nadat verdagtes op twee huise van plaasbewoners op die plaas Ionia, in Ficksburg, geskiet het. ‘n Seun (10) het op die toneel gesterf.
Sers. Mahlomola Kareli sê die soektog na die verdagtes duur voort.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Kind (11) het Sondag tydens ‘n skietery op die Ionia-plaas in Ficksburg gesterf nadat twee gewapende verdagtes glo lukraak skote op plaasbewoners geskiet het. Ses persone is met beserings in hospitale opgeneem.
AO Mmako Mophiring sê die polisie is op soek na inligting nadat die twee onbekende verdagtes te voet van die toneel gevlug het tot by ‘n voertuig wat langs die pad op die R26 gestaan het.
Met aankoms van die polisie en nooddienste is gevind die kind is in sy maag geskiet en het gesterf. Nog ses persone wat gewond is, is vir verdere mediese behandeling na hospitale vervoer.
Die motief vir die skietery is onbekend. ‘n Saak van moord en ses van poging tot moord word ondersoek.
Enigiemand met inligting word versoek om kapt. Petrus Lebakeng van die Ficksburg-speurtak by 079 897 7144 te bel.





