NOORD-KAAP. – ‘n Man (24) is Maandag tot twintig jaar tronkstraf deur die Carnarvon-streekshof gevonnis nadat hy op twee aanklagte van verkragting skuldig bevind is.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die NVG, sê die verkragter se naam word nie bekendgemaak nie, om die slagoffers te beskerm.
Tydens die eerste insident op 2 Februarie 2022 het die beskuldigde familie besoek en sy neef se vrou verkrag terwyl sy geslaap het. Sy het wakker geword, haar man se neef herken en uitgehardloop om hulp te kry.
Die beskuldigde het beweer beide hy en die slagoffer het tot die seksuele daad toegestem op voorwaarde dat hy vir die slagoffer 2 liter wyn gee. Hy is op dieselfde dag in hegtenis geneem en die hof het sy borgaansoek aanvaar.
Terwyl hy op borg was, is hy op 2 Junie 2022 na die huis van sy ander niggie. Sy is ook verkrag terwyl sy geslaap het, maar hy is op heter daad deur haar kêrel en dié se neef betrap. Die slagoffer het vir hulp na haar ma gevlug. Die beskuldigde het gevolg en gesê hulle het beide, soos in die ander geval, tot die seksuele daad toegestem. Hy het hulle R100 aangebied. ‘n Saak van verkragting is aangemeld en die beskuldigde is in hegtenis geneem.
Die twee sake is saamgevoeg.
Tydens vonnisoplegging is die tyd wat die beskuldigde in aanhouding was in ag geneem. Hy is tot 10 jaar direk op elke aanklag van verkragting gevonnis. Die vonnisse sal nie gelyktydig uitgedien word nie en hy sal 20 jaar effektief tronkstraf uitdien.





