GAUTENG. – Ronald Ngobeni (29) het op 7 Oktober 2022 sy seun Rivoningo Capu (5) doodgemaak en in ‘n vlak graf begrawe. Hy is Woensdag deur die Johannesburg-hooggeregshof aan moord en regsverydeling skuldig bevind.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê Ngobeni het op die betrokke dag aan Capu se grootouers voorgegee hy gaan vir die kind klere koop en hom veilig terugbesorg. Instede het hy die kind brutaal vermoor.
Capu se grootouers het hom as vermis by die polisie aangemeld. Ngobeni het gesê hy het die kind gelos by ‘n verkoper, wat enige betrokkenheid by die kind se dood ontken het.
Die liggaam van die seun is in dieselfde maand met ‘n kopbesering in ‘n vlak graf ontdek. Ngobeni se leuens is deur die polisie-ondersoek ontbloot.
Regter Karam het bevind Thamsanqa Mpekana, die staatsaanklaer, het bo redelike twyfel bewys Ngobeni is aan die misdade skuldig. Mjonondwane sê die skuldigbevinding bring ‘n mate van afsluiting vir die familie en gemeenskap. Die NVG prys die polisie en staatsaanklaer vir die skuldigbevinding.
Die saak is tot 15 Julie uitgestel wanneer daar met bewyse ter versagting en verswaring van die vonnis voortgegaan sal word.





