Videokrediet: Onbekend
Videokrediet: Onbekend
KWAZULU-NATAL – ‘n Man het gesterf toe sy voertuig van ‘n parkeerplek bo in die Atrium-inkopiesentrum in Overportrylaan, Berea, Durban, deur ‘n muur gebars en onder op sy dak te lande gekom het.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê verskeie oproepe is omstreeks 12:20 vir hulp ontvang. Met aankoms op die toneel is gevind die voertuig het versnel, deur die muur gebars, in die lug omgekeer en ongeveer vier vloere na benede op sy dak geval.
Die enigste insittende van die voertuig, ‘n man vermoedelik in sy 70’s, was in die voertuigwrak vasgekeer. Hy is op die toneel dood verklaar.
Jamieson se Durban-brandweer en die metro se soek-en-reddingseenheid is tans op die toneel besig met reddingskake en ander hidrouliese toerusting om die oorledene uit die wrak te sny.
Overportrylaan sal vir ‘n tydperk gesluit wees, ook vir owerhede om ondersoek na die voorval in te stel.





