WES-KAAP. – Carmen en Kenslee Kolbee, ‘n geskeide paar, is elk tot 15 jaar direkte tronkstraf deur die Bluedowns-streekhof opgelê. Hulle is na amper 10 jaar vir ‘n bankroof gevonnis.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die twee het saamgesweer om die Standard Bank in Kuilsrivier, waar Carmen Kenslee as bestuurder gewerk het, van R3 m. te beroof. Die bank is op 12 November 2014 beroof en die Kolbees is vir roof met verswarende omstandighede aangekla.
Christiaan de Jongh, die staatsadvokaat, het aan die hof voorgehou die beskuldigdes het finansiële probleme gehad en was desperaat vir geld. Carmen Kenslee het inligting van die bank aan Kenslee Kolbee oorgedra.
“Kensley, wat destyds ‘n elektriese maatskappy besit het, het Ebrahim Isaacs, sy vorige swaer, gewerf. Isaacs het Samorien Hattas, Leroy Ackerman en Afzal Kazie gewerf om die rooftog uit te voer.”
Ntabazalila sê Kazie het staatsgetuie gedraai, in ruil dat hy nie vervolg word nie. Isaacs, Hattas en Ackerman het ‘n pleitooreenkoms met die staat vir ligter vonnisse aangegaan.
“Op 5 September 2017 het die twee onskuldig gepleit, maar nadat 20 getuies geroep en die beskuldigdes getuig het, is die verhoor op 21 Junie 2024 afgehandel.”
Die beskuldigdes is op die aanklagte teen hulle skuldig bevind en is gevonnis.





