NOORDWES. – Jacobus Venter (28) en Isaac Matebele (44) het glo Woensdag die polisie gebel om te sê hulle is in die moeiliheid en aan die vlug vir ‘n groep mense. Die tweemanskap het intussen Donderdag op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde beeste in die Vryburg-landdroshof verskyn.
Brig. Sabata Mokgwabone sê die twee mans sal vandag (Vrydag) weer in die hof verskyn. Na bewering het Venter net voor 07:00 die polisie gebel en gesê hy is in die moeilikheid en is onderweg na Stella, buite Vryburg. Die polisie het vasgestel Venter en Matebele het in ‘n super cab gery en het ‘n sleepwa met nege beeste getrek. Hulle is deur ‘n groep van ongeveer 50 mense in verskeie voertuie gevolg. Die groep het die twee mans van veediefstal beskuldig. Nadat polisiebeamptes met die groep gepraat het, is die eenhede vir veediefstal en bedreigde spesies en openbare orde polisiëring (OOP) ontbied. Nadat die groep mense die twee mans se voertuig aan die brand probeer steek het, is hulle deur OOP uitmekaargejaag.
Mokgwabone sê voorlopige ondersoek het onthul die paar het na bewering tussen 20 November en 4 Desember by drie verskillende geleenthede vee in Ramabesa en Setlagole gesteel.
Die ondersoek duur voort.





