KWAZULU-NATAL. – ‘n 3-jarige is die enigste oorlewende insittende van ‘n voertuig, wat Donderdag in ‘n tromp-op-botsing op die N3 in Balgowan, in ‘n noordelike rigting, betrokke was.
Midlands EMS was omstreeks 12:30 op die toneel. Aanvanklik is gevind twee insittendes van die twee voertuie is oorlede en drie beseer. Dit het twee kinders onder die ouderdom van 10 jaar ingesluit. In die eerste voertuigwrak was ‘n noodlottig beseerde insittende vasgekeer en nog ‘n insittende is ernstig beseer.
In die tweede wrak was ‘n ma en haar twee kinders wat met die impak van die ongeluk uitgeskiet is. Al drie was kritiek beseer en het gevorderde lewensondersteunende behandeling vereis. Een van die kinders (10) is per helikopter na ‘n hoësorgfasiliteit gevlieg. Die ma is per ambulans na ‘n hospitaal vervoer, waar sy kort na aankoms vanweë haar beserings gesterf het. Midland EMS het Vrydag bevestig die 10-jarige kritiek beseerde kind het ook gesterf.
Die 3-jarige ontvang steeds mediese behandeling.






