Die NSRI het gedurende 2024 aan 1 096 operasies meegedoen, waartydens 1 629 persone wat in gevaarlike situasies verkeer het, gehelp is.
Charl Maritz, die Nasionale Seereddingsinstituut van Suid-Afrika se operasionele bestuurder, het die vrywilligers wat altyd reg is om te help, geprys. Van die 1 096 insidente was altesaam 51 noodoproepe en 340 het vaartuie ingesluit, terwyl diere in 72 van die gevalle betrek is.
“Swiftwater-voorvalle en brandreaksiepogings was ook prominent, met onderskeidelik 12 en sewe voorvalle. Fondsinsamelings en voorspraakgeleenthede, wat die omvang van die NSRI se aktiwiteite ten toon stel, het altesaam 328 beloop.”
Om verdrinkings te probeer voorkom, is 865 000 inidvidue in waterveiligheid opgevoed. Altesaam 24 043 individue het swemopleiding ontvang. En die pienk-boei-redding het meer as 200 lewens gered.
Bo en behalwe die suksesse het meer as 400 seisoenale lewensredders by 73 plekke in 11 munisipaliteite diens gedoen.
“In die toekoms sal potensiële opleidingsvennootskappe in Mauritius en ander nuwe kontrakte daarop gemik wees om finansiële volhoubaarheid te verseker.”
Maritz voeg by dat 2024 die NSRI voorberei het om selfs ‘n groter impak gedurende 2025 te hê om Suid-Afrikaanse water vir gebruikers veilig te maak.





