VRYSTAAT. – ‘n Vroulike konstabel en sersant, verbonde aan die Heidedal-polisiestasie in Bloemfontein, is Donderdag op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, deur die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) gearresteer.
Lizzy Suping van Opod sê aan Nuusflits die arrestasie spruit voort uit ‘n insident soos voorheen op 19 Januarie oor berig is. Beide die beskuldigdes sal vandag in die Bloemfontein-landdroshof voorkom.
Na bewering is ‘n slagoffer (40) na die polisiestasie om hulp te kry nadat haar kêrel ‘n beskermingsbevel oortree het. ‘n Meningsverskil het ontstaan en die slagoffer is in die polisiestasie aangerand. Die slagoffer het beserings aan haar liggaam opgedoen. Die beskuldigdes word by ‘n plaaslike polisiestasie aangehou.






