KWAZULU-NATAL. – ‘n Seun (13) het glo Sondag eers sy huis in Hazelmere aan die brand gesteek, waarna hy in ‘n kroeg opgespoor is waar hy sit en alkohol drink het.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê dié diens is omstreeks 21:15 na ‘n brandende huis ontbied. Met aankoms het reaksiebeamptes die brand onder beheer gebring, waarna brandbestryders dit geblus het.
Die vrou van die huis het na bewering saam met haar drie kinders, tussen 3 en 13 jaar oud, by die bure partytjie gehou. Haar tienerseun is beveel om sy sibbe huis toe te neem en kos te gee. Hy het geweier, maar toe glo tog die partytjie met die huissleutels verlaat. Kort daarna is die huis in ligte laaie aangetref.
Rusa sê bure het daarna na die tienerseun gesoek en hom in ‘n plaaslike kroeg opgespoor, waar hy alkohol gesit en drink het.






