JACOBSBAAI. – Karl Puchert (23) het Nuusflits se lesers omtrent op hol gehad met sy handige manier van ’n TLB op die strand bestuur. Karl is verlede Dinsdagmiddag gebel om te kom help met ‘n Toyota Cruiser wat drie ure lank in die water by Jacobsbaai vasgesit het. Teen daardie tyd het verskeie mense, in verskillende bakkies, al probeer help. Soveel so dat ‘n Land Rover toe óók later vasgesit het, met ‘n ander Toyota, asook ‘n Ford, wat nie kans gesien het vir die los sand nie.
Dié “reddingspoging” van Puchert met ‘n TLB (trekker-laaier-graaf) het ten aanskoue van restaurantbesoekers by Daai Plekkie teen die Weskus en vissermanne wat reeds hulle eie bote uitgesleep het, plaasgevind. Nadat die voertuig uit die water bevry is, het Puchert kortliks met Nuusflits gepraat en dié video het binne twee dae viraal gegaan, met reeds meer as 156 000 kyke.
Die dames voel hy is ’n man na aan hulle hart – iemand wat nog met sy hande kan werk, ordentlik en op sy plek is en ’n hart van goud het.
Nuusflits het by Puchert ingeloer om te hoor hoekom hy sê hy nié aan Boer Soek ’n Vrou sal deelneem nie en hoe sy ideale vrou eendag “hare op haar tande” moet hê.
Het jy verwag dat die video só ver sou versprei?
“Nee glad nie, na die affêre het ek gou Saldanha toe gery en nog voor ek die dorp binnekom, het my sussie my gebel en gesê sy hoor ek is op die internet. Nou natuurlik weet ek waarvan sy toe praat, maar ek was rêrig verstom gewees oor hoe vinnig die nuus so versprei het.”
As Boer Soek ’n Vrou jou nou bel, wat sê jy?
“Om eerlik te wees, ek dink ek sal mal raak as ek so baie girls om my moet hê, ’n man gaan nie weet waar om te vat en waar om te los nie. Nee, ek sal vir Boer Soek ’n Vrou maar moet ‘nee dankie’ sê. Plus, ons grond is nou nie so groot nie, so die girls gaan inmekaar se hare die heeldag wees.”
Is dit vir jou belangrik om goed self te kan regmaak en self te doen? Waar het jy dit geleer?
“Man ja, ek is nou nie ’n groot boffin om masjiene reg te maak nie, maar ek ken darem ’n ding of twee van die basiese goed. Op die myn waar ek was, moes ek maar ’n paar dinge self regmaak, want daar is nie tyd om te wag vir iemand om dit vir jou te doen nie en ’n lorrie wat stilstaan, is geld uit die sak uit. My pa is in die konstruksie en het self op plase grootgeraak en my oom wat ook op plase grootgeraak het, het lorries en die myn besit. So daar is baie kennis van ‘maak ’n plan’, of soos ek dit noem: om iets te MacGyver, oorgedra na my toe.”
Wat dink jy is belangrik in vandag se tyd om te kan doen as jy ’n man is?
“Al die mentors wat ek in my lewe het, het vir my gesê: ‘Daar is ’n fyn lyn tussen hard en dom werk en hard en slim werk.’ So ’n man moet in deesdae se lewe sy kop ook gebruik. En natuurlik moet ’n man handig wees, want dit help nie jy kan lekker vry, maar nie lekker vat nie. Nee, ek spot nou! Daar is altyd ietsie wat breek, so ’n ou moet darem weet hoe om ’n hamer of ’n spanner te swaai. Dan moet ’n man ook goeie waardes hê, en daarvoor is my ouers te danke. ’n Laaste ding, ’n man moet ook baie geduld hê, want een ding wat ek geleer het… Moet nie ’n vrou aanjaag as sy besig is om haar make-up te doen nie!”
Wat doen jy alles by die padstal, Karmenaadjie en op die plaas, Togryersvlei, op ’n tipiese dag?
“Ek help maar uit by die padstal as daar dringend hulp nodig is. Verder is ek besig om aandag te gee aan die paar masjiene wat ons het. Ek is maar besig om die heeltyd iets reg te maak en nou en dan ietsie te bou. Ons het ook ’n wonderlike venue, Togryersvlei Wedding and Conference Venue. Dis great om troues, funksies, verjaarsdae te hou en dan het ons al ’n hele paar beroemde kunstenaars gehad wat by ons opgetree het. Dis lekker groot, so as iemand trou, kan hulle klomp mense nooi, met nog steeds ’n ordentlike dansvloer. Ek glo almal wat al hier by ons getrou het, het tevrede anderkant uitgestap. As daar nou troues of funksies is, help ek met die voorbereiding van die plek, en dan op die troudag of funksie is ek die barman.”
Wat maak Jacobsbaai en sy mense besonders?
“Die mense van Jacobsbaai is hartsmense. Ek dink dis nog een van die min plekke waar jy welkom voel as jy by enige mens se huis instap. Die natuurskoonheid van Jacobsbaai is iets anders – veral wanneer dit blommetyd is – en dis seker een van die plekke met die mooiste sonondergange.”
Wat dink jy is belangrike aspekte van ’n vrou as jy eendag iemand spesiaal ontmoet?
“As ek ’n vrou nou moet ontmoet, moet sy darem mooier as ek wees. Ek kan nie die mooi een wees in die verhaal nie. 🙂 Nee, ek grap net! Ek glo vas ’n vrou moet ’n goeie sin vir humor hê, want anders gaan sy dit nie met my familie maak nie. ’n Vrou moet saggeaard wees en goeie waardes hê. Sy moet ook hare op haar tande hê, want ek kan somtyds effens moeilik raak.”
Een leser het kommentaar gelewer die padstal het baie lekker kos – wat is jou gunsteling om daar te eet?
“Jis, ons padstal het ’n klomp produkte – van jams tot ingelegte goed – en natuurlik vir die girls is daar die mooiste leerprodukte: van handsakke tot sakke en vellies. Ek moet nou lag, dis die eerste ding waarnatoe vrouens gaan as hulle instap by die padstal. Daar is soveel heerlike geregte op ons spyskaart, soos skaapstertjies, kaaskoek, melktertjaffels (glo my, dis nou iets wat jou sal verras), maar my gunsteling is definitief die volstruisburger – dis besonders lekker en sal enige man of dame se hongerte stil.”





