OOS-KAAP. – Vyf verdagtes tussen 19 en 50 jaar oud verskyn vandag (Donderdag) op aanklag van gewapende roof en ontvoering in die Whittlesea-landdroshof. Een van die verdagtes is ’n veiligheidsbeampte van die Enoch Mgijima- plaaslike munisipaliteit.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê vier gewapende mans het omstreeks 19:20 op 28 September ’n winkel in Ekupumleni binnegestorm. Een van die aanvallers het glo ’n skoot in die plafon afgevuur om klante te intimideer. Kontant en ‘n selfoon is geroof, waarna die eienaar (35) gewelddadig in ‘n silwerkleurige Toyota Stalio ontvoer is.
Die saak is by die polisie aangemeld. ‘n Koeëldoppie is op die toneel gevind en kort daarna is ‘n losprys aan die slagoffer se familie gemaak. Die slagoffer is die volgende dag ongedeerd vrygelaat nadat die polisie druk toegepas het.
Inligting is op 30 September ontvang dat die verdagtes op pad na Gqeberha was. ’n Gesamentlike operasie het tot die opsporing van die motor in Gqeberha gelei. Drie verdagtes wat in die motor was, is ondervra, waarna hulle betrokkenheid bevestig is. Groot bedrae kontant, nuwe klere, kwitansies en die slagoffer se selfoon is teruggevind. Verdere ondersoeke het gelei tot die deursoeking van ’n woning in Wesley Estate, waar kontant en die slagoffer se selfoon opgespoor is.
’n Vyfde verdagte is later in Whittlesea met ’n groot bedrag kontant in sy besit in hegtenis geneem. Hy is geïdentifiseer as ’n veiligheidswag van die Enoch Mgijima- plaaslike munisipaliteit.





