KWAZULU-NATAL. – Dewald Beetge vorder goed nadat hy Woensdagmiddag omstreeks 14:35 deur verdagtes in sy huis op ‘n plaas naby Mellville in die Southport-polisiëringsgebied aangeval en geskiet is. Beetge is ‘n veiligheidsbeampte van Gladiator-veiligheidsdienste in Hiberdene.
Gladiator-veiligheidsdienste sê in ‘n sosialemediaplasing nuwe X-strale bevestig dat die wond aan sy linkerbeen nie sy dybeen (femur) gebreek het nie en dat dit slegs ’n vleiswond is. Daar is ook berig dat sy long normale druk behou, wat daarop dui dat die longwond toegegaan het en sy longfunksie stabiel is. Drie van die ingangswonde het reeds begin genees. ’n CT-skandering is vir Woensdag geskeduleer om die toestand van die bloeding en swelling in sy brein te bepaal. Tot dusver is die enigste beplande operasie vir die rekonstruksie van sy sinusse.
Volgens die plasing het Beetge se familie hulle dank en waardering uitgespreek teenoor almal vir ondersteuning en gebed en het versoek dat mense voortgaan om vir Dewald te bid. Die diens sê voorts Dewald is in ‘n kritieke maar stabiele toestand.
Die gemeenskap word versoek om op 28 Oktober, ter ondersteuning van Dewald, wat sy 22ste verjaardag in die hospitaal sal vier, wit T-hemde te dra. Hulle word aangemoedig om foto’s en boodskappe van ondersteuning op sosiale media as teken van eenheid en gemeensaamheid te deel. Die wit T-hemde simboliseer hoop, genesing en die samehorigheid van ’n gemeenskap wat hom en sy familie ondersteun.






One Response
Dewald is een van die mense wat my eiendom op Hibberdene beskerm. Mag hy deur die Genade van Bo gou herstel. Met ook groot waardering en gebede van my hele familie.