KWAZULU-NATAL. – ’n 16-jarige meisie het Woensdag haar pa (49) se lewe gered, nadat sy hom hangend aan buitebalke by hulle huis in Ethekweni aangetref het. Die presiese ligging van die huis is vir privaatheidsredes weerhou.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ‘n sosialemediaplasing die tiener het omstreeks 13:00 noodhulp versoek, waarna paramedici en reaksiebeamptes hulle na die toneel gehaas het. Op die toneel is die man, wat volgens Rusa skaars reaksie getoon het, behandel en vinnig na ‘n hospitaal vervoer. Hy is in ‘n kritieke toestand opgeneem.
Volgens inligting wat op die toneel ingewin is, het die man en sy vrou glo vroeër die oggend ‘n argument gehad. Die man het glo vir haar boodskappe van sy voorneme om sy eie lewe te neem, gestuur. Sy het aan Rusa-beamptes gesê sy het die boodskappe geïgnoreer, aangesien sy gereeld sulke tipe boodskappe van hom ontvang.





