VSA. – Jeffrey Epstein het volgens berigte rekenaars en foto’s vir Amerikaanse owerhede in geheime stoorgeriewe regoor die VSA weggesteek, is vroeër die week deur The Telegraph onthul. Epstein het glo privaat speurders betaal om items van sy eiendom in Florida te verwyder in ’n oënskynlike poging om dit voor ’n polisieklopjag in 2005 vir ondersoekers te versteek.
Die items is vir verskeie jare by ’n nabygeleë stooreenheid in Palm Beach gehou terwyl polisie die beweerde pedofiel ondersoek het. Die eenheid is een van minstens ses stoorkluise wat Epstein oor ’n tydperk van 16 jaar gehuur het.
’n Inventaris van die geheime Palm Beach-stoorplek, wat deur The Telegraph bekom is, toon dat die weggesteekte items drie rekenaars, 29 adresboeke en ’n driebladsy-lys van masseuses in Florida ingesluit het.
Die versteekte stooreenheid het ook naakfoto’s, glo van Epstein se slagoffers, bevat, asook tientalle pornografiese tydskrifte, groetekaartjies, briewe, laboratoriumuitslae, videokassette, VHS-bande en DVD’s wat erotika van tieners bevat.
Hoewel afskrifte van twee van die rekenaar-hardeskywe jare later deur die federale ondersoekburo teruggevind is, is dit onbekend of enige van die materiaal in die stooreenheid ooit opgespoor is.
Bronne: The Telegraph, Stuff





