GAUTENG. – Tiffany Nicole Meek (32), wat daarvan beskuldig word dat sy vir Jayden-Lee Meek (11), haar seun, vermoor het, se saak is vir pleitverrigtinge tot 25 Maart uitgestel. Die uitstel volg nadat die verdediging die staat genader het en aangedui het dat die beskuldigde van plan is om op somminge van die aanklagte skuldig te pleit.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die saak hou verband met ’n voorval in Mei verlede jaar toe die seun as vermis aangemeld is. Sy liggaam is die volgende oggend langs ’n trap by die woonstelkompleks gevind waar hy saam met sy ma gewoon het. Volgens die ondersoek het die kind ná skool huis toe gegaan en is hy glo in die huis doodgemaak. Daar word verder beweer dat die toneel later so aangepas is om owerhede te probeer mislei.
Meek staan tereg op aanklagte van onder meer moord, regsverydeling en crimen injuria. Die saak is in die Johannesburg-hooggeregshof, wat in die Palm Ridge-landdroshof sit, uitgestel.
Die oorledene is op 13 Mei 2025 as vermis aangemeld, waarna sy naakte liggaam die volgende oggend gevind is langs die trap in die kompleks waar hy en sy ma gewoon het. Volgens ondersoeke het hy daardie dag van die skool af huis toe gegaan en is vermoedelik in die huis vermoor. Daar word beweer dat die ma probeer het om die toneel te verander om owerhede te mislei.





