GAUTENG. – ’n Man (26) is Donderdag in Boksburg in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy vrou oor ’n tydperk van vyf jaar bedwelm, verkrag en intieme video’s van haar sonder haar toestemming versprei het.
Lt.kol. Amanda van Wyk sê die man is tydens ‘n gesamentlike operasie van die reeks- en elektroniese misdaadondersoek-eenheid (SECI) ondersteun deur die VSA-ambassade se departement van binnelandse veiligheidsondersoeke (HSI), in hegtenis geneem. ‘n Ondersoek is van stapel gestuur nadat inligting van die nasionale misdaadagentskap (NCA) van die Britse Hoë Kommissie ontvang is. Volgens dié agentskap was die man by dwelmverwante seksuele misbruik betrokke, ook bekend as Somnofilie of sleep fetish. Die slagoffer was dikwels onder die invloed van middels en nie by haar bewussyn wanneer die beweerde misdrywe gepleeg is nie.
Tydens verdere ondersoek is nog ’n manlike verdagte (48) van Germiston, glo bekend met die eerste verdagte, ook Donderdag in hegtenis geneem. Albei staan tereg op aanklagte wat onder meer seksuele aanranding, die besit en verspreiding van kindermisbruikmateriaal, asook die onwettige besit van vuurwapens en oortredings van die kubermisdaadwet insluit. Tydens die operasie is verskeie beelde en video’s, asook ander digitale bewyse, deur forensiese kenners op die verdagtes se toestelle gevind.
Die polisie sê verdere ondersoek en ontleding van die toestelle duur voort. Die verdagtes sal na verwagting vandag (27 Maart) op die aanklagte in die Boksburg-landdroshof verskyn.





