Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) tot ’n wêreldgesondheid-noodtoestand verklaar.
Luidens ’n verklaring deur die agentskap is ongeveer 246 vermeende gevalle en 80 sterftes aangemeld. Dit voldoen egter nie aan die kriteria vir ’n pandemiese noodtoestand nie.
Die direkteur-generaal van die WGO, Tedros Ghebreyesus, het gewaarsku dat daar tans “beduidende onsekerheid bestaan oor die werklike aantal besmette persone en die geografiese verspreiding” van die uitbreking.
Daar is tans geen goedgekeurde medisyne of entstowwe vir die huidige Ebola-stam nie. Dié stam word deur die Bundibugyo-virus veroorsaak.
Volgens die WHO is daar reeds agt laboratorium-bevestigde gevalle van die virus. Daar is ook ander vermeende gevalle en sterftes oor drie gesondheidsones, insluitend Bunia, die hoofstad van die Ituri-provinsie, asook die goudmyndorpe Mongwalu en Rwampara.
Twee bevestigde gevalle is reeds in die naburige Uganda aangemeld.
Ugandese amptenare het gesê ’n 59-jarige man wat Donderdag oorlede is, het positief vir die virus getoets.
Lande wat aan die DRK grens, word weens bevolkingsmobiliteit, handel en reis as hoë-risiko’s vir die verdere verspreiding van Ebola beskou.
Bronne: BBC News, The Guardian.





