Japannese kan nou afkoel in ‘menslike yskas’

Lees ook :

Foto ter illustrasie (Canva)

TOKIO. – Namate somers in Japan al hoe warmer word, ontwikkel maatskappye kreatiewe maniere om mense teen die drukkende hitte te beskerm.

Volgens Japan Today is een van die nuutste uitvindings wat opslae maak, ‘n sogenaamde “menslike yskas” – ‘n afkoelhokkie vir een persoon wat soos ‘n groot yskas lyk, maar ontwerp is om die menslike liggaam af te koel.

Die Do Hiemon Box is ontwikkel deur SDRS, en word deur die verskaffer van industriële toerusting, Trusco Nakayama, bemark. Die ontwerp is geïnspireer deur die verkoelde outomate wat oral in Japan voorkom.

Die temperatuur binne die hokkie word konstant op 15 °C gehou. Sodra iemand op die ingeboude stoel gaan sit, word lug van sowat 5 °C na die kop, nek, skouers en rug geblaas. Dit laat die liggaam binne sekondes afkoel en bring vinnige verligting van die hitte.

Volgens die vervaardiger kan ‘n sessie van ongeveer tien minute help om simptome van hitte-uitputting te verlig deur die liggaamstemperatuur vinnig te verlaag. Dit kan veral waardevol wees vir mense wat in warm omgewings werk, soos op boupersele, in fabrieke, pakhuise en by buiteluggeleenthede.

Die Do Hiemon Box het drie verkoelings- en lugvloei-stellings en skakel outomaties ná 20 minute af om te voorkom dat gebruikers te veel afkoel. Dit gebruik sowat die helfte van die elektrisiteit van ‘n gewone draagbare lugversorger, verg geen installasie nie en kan sowel binnenshuis as buitenshuis gebruik word. Omdat dit op wiele gemonteer is, kan dit maklik verskuif word na waar dit benodig word.

Bronne: Japan Today, NDTV.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief