GAUTENG. – Die Owl Rescue Centre is vroeër ontbied nadat hulle glo ’n berig ontvang het van ’n kameelperd wat in ’n slaggat (pothole) in Hekpoort vasgekeer is.
Die sentrum sê in ‘n sosialemediaplasing die reddingspan het dadelik gereed gemaak om uit te ry en die dier te help. Hul planne het egter verander toe hulle ’n foto ontvang en besef iets is nie heeltemal reg nie. Volgens die Owl Rescue Centre was die “kameelperd” deel van ’n poets. Die plaaslike DA-tak het glo ’n opgestopte kameelperdkop in ’n gat geplaas om aandag te trek. Die reddingsentrum het die voorval met humor hanteer en gesê hulle wonder of hulle dalk net nog nie genoeg koffie vir die dag gehad het nie.
Die sentrum het ook tong-in-die-kies aan die DA gesê hulle skuld ’n skenking vir die brandstof wat gebruik is om op die beweerde noodgeval te reageer.
