Brekende Nuus
Misdaad

Meer as R200 m. se vermoedelike kokaïen op lughawe onderskep

Foto: SAPD

GAUTENG. – Die polisie en wetstoepassingsowerhede het Dinsdag op meer as R200 miljoen se vermoedelike kokaïen by die OR Tambo Internasionale Lughawe (Ortia) beslag gelê. Die beslaglegging is gedoen in twee afsonderlike onderskeppings.

Volgens brig. Athlenda Mathe, die nasionale polisiewoordvoerder, het polisiebeamptes wat by Ortia gestasioneer is, die besendings saam met onder meer doeanebeamptes onderskep. In die eerste voorval is twee groot reistasse by die lughawe se terminaal onderskep. Die tasse het blokke vermoedelik kokaïen bevat wat altesaam sowat 84 kilogram geweeg het. In ’n afsonderlike onderskepping in die vragafdeling is vier bokse met ongeveer 250 kilogram vermoedelik kokaïen, verpak in 220 blokke, gevind.

Niemand is in verband met die beslagleggings in hegtenis geneem nie. Ondersoeke duur voort om die persone wat vir die invoer en verspreiding van die dwelms verantwoordelik is, te identifiseer en in hegtenis te neem.