Brekende Nuus
Misdaad

R13 m. se dwelms in 2 operasies in Wes-Kaap onderskep

Foto's: SAPD

WES-KAAP. – Polisiebeamptes het in twee afsonderlike operasies dwelms ter waarde van altesaam R13 miljoen onderskep. ’n 37-jarige man is in Riviersonderend en nog ’n 37-jarige man in Khayelitsha in hegtenis geneem.

Volgens polisiewoordvoerder, konst. Ndakhe Gwala, is R11 miljoen se dwelms by Riviersonderend onderskep. Polisiebeamptes het Dinsdagaand omstreeks 22:35 ’n swart Nissan Tiida tydens ’n voertuigstop op die N2 by Riviersonderend deursoek. 87 pakkies Mandrax-tablette, 16 pakkies ongesnyde kristalmetamfetamien en twee blokke kokaïen is in die kattebak gevind. ’n 37-jarige buitelandse man is op aanklag van dwelmbesit in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting in die Caledon-landdroshof verskyn nadat hy aangekla is.

Thembakazi Mpendukana, polisiewoordvoerder, sê daar is vanoggend omstreeks 05:30 op R2 miljoen se dwelms in Khayelitsha beslag gelê. Tyhdens hierdie operasie is inligting oor beweerde dwelmaktiwiteite by Thaleni Square ontvang. Die polisie het nege pakkies, met 1 000 Mandrax-tablette elk, asook 300 los Mandrax-tablette gevind.

Verdere ondersoek het gelei tot die ontdekking van 12 sakkies kristalmetamfetamien en 4,15 gram crack-kokaïen. ’n 37-jarige man is op aanklagte van dwelmbesit en handeldryf in dwelms in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting in die Khayelitsha-landdroshof voorkom nadat hy aangekla is.