KALIFORNIë, VSA. – Saritha Ramaraju (48) het glo op 19 Maart (Woensdag) om 09:12 die Santa Ana-polisie gebel en gesê sy het haar seun, Yatin Ramaraju (11), gesteek en doodgemaak. Hy was toe glo reeds ure lank dood.
Volgens verklarings van die Santa Ana-polisiedepartement en Orange County-distriksprokureur is die seun se liggaam, omring met Disneyland-aandenkings, op ‘n bed in ‘n kamer in die La Quinta Inn & Suites aangetref. ‘n Groot kombuismes, wat glo die vorige dag deur Saritha gekoop is, is ook op die toneel gekry.
Saritha het pille gedrink in ‘n poging om haar eie lewe te beëindig. Sy is na ‘n hospitaal geneem. Met haar ontslag is sy in hegtenis geneem en is tans by die Santa Ana-tronk in aanhouding.
Saritha en Yatin se pa is in 2018 geskei, waarna Saritha na ‘n ander staat verhuis het. Volgens Todd Spitzer, die Orange County-distriksprokureur, moes Saritha die Woensdag vir Yatin aan sy pa terugbesorg. Ma en seun het drie dae met ‘n voogbesoek saam deurgebring, waartydens Yatin vermoor is.
Saritha is vir moord en die gebruik van ‘n dodelike wapen aangekla en sal weer op 17 April in die hof verskyn. Indien sy op beide die aanklagte skuldig bevind word, kan sy ‘n maksimum vonnis van 26 jaar tot lewenslank in die tronk uitdien.
Lees die volledige verklarings van die Santa Ana-polisiedepartement en die Orange County-distriksprokureur hier onder.


Bronne: Santa Ana-polisiedepartement, Orange County-distriksprokureur, People, Hindustan Times en Times of India
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]