Brekende Nuus
Afrikaans

Paartjie by padwerke net buite Oos-Londen aangeval

Nuusflits
Nuusflits

Foto aan onderkant van die berig.

OOS-KAAP. – ‘n Paartjie is wreed aangeval nadat hulle op Donderdag, 22 Mei 2025, omstreeks 16:00, toe hulle ongeveer 90 km van Oos-Londen af by padwerke moes stilhou.

Volgens Brad Nathanson Investigations se sosiale mediaplasing oor die voorval was die onderstel van Les en Lauren se motorvoertuig laag en Lauren, wat bestuur het, het stadig oor die spoedhobbels gery. Na bewering het ‘n man in ‘n vuil Pandabeer-onesie skielik by die venster verskyn met wat soos ‘n vuurwapen gelyk het. Die voertuig se vensters was met smash-and-grab-film getint en Les kon nie mooi sien nie. Eers toe hy die deur oopmaak, het hy gesien dat dit ‘n nagemaakte wapen is. Toe hy uitgeklim het, is hy deur agt jong mans oorrompel. Volgens die plasing het die aanvallers herhaaldelik vir geld en wapens gevra. Hulle het die motor deursoek, terwyl Lauren met ‘n mes teen die keel aangehou en Les met klippe bestook is. Die boosdoeners het glo met die paartjie se selfone, bankkaarte en beursies van die toneel gevlug, waarna die kredietkaarte kort daarna by ‘n spaza-winkel gebruik is.

Volgens die ondersoekmaatskappy is die aanvallers vermoedelik jong mense wat in die omliggende bosse van die voorval woon of selfs daar skuil.

Die maatskappy se raad is om altyd ’n veilige volgafstand te hou sodat jy kan uitswaai, indien nodig. Indien moontlik, bly altyd binne jou voertuig.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]