VRYSTAAT. – Kamogelo Baukudi (19), ‘n gr. 11-leerling aan Hoërskool Martie du Plessis in Fichartdtpark, is glo Donderdag kort voor 12:00 ontvoer deur twee mans wat hulle as polisielede voorgedoen het. ‘n Taakspan van die polisie ondersoek tans die saak.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits dat Daniel Malebatso, die klaer in die saak, soos gewoonlik by die skool opgedaag het om Baukudi op te laai. Die twee het na bewering die skoolperseel met ‘n Suzuki Ertiga verlaat, wat deur Baukudi bestuur is. Hulle het in Vereenigingrylaan in die Erlichpark-uitbreiding gery toe hulle stilgehou het nadat ‘n sirene agter hulle gelui het. Twee mans, een geklee in ‘n polisie-uniform en die ander in ‘n blou sweetpak, het uit ‘n wit Toyota Hilux GD-6 dubbelkajuitbakkie geklim. DIe voertuig was met blou ligte en iets wat lyk soos ‘n polisie-radio toegerus.
Die man in die uniform het glo vir Malebatso meegedeel dat daar vermoedelik dwelms in die Suzuki was. Die verdagtes het toe vir Baukudi in hul bakkie gelaai en vir Malebatso gesê om agter hulle aan na die Parkweg-polisiestasie te ry. Hulle het omgedraai en in ‘n westelike rigting gery. Malebatso beweer ‘n vragmotor het tussen sy voertuig en die bakkie waarin Baukudi was ingery en dat hy daarna nie weer die bakkie gesien nie. Hy onthou egter dat een van die verdagtes vlot Sesotho gepraat en selfs die naam “Thipe” genoem het. Baukudi en Malebatso se selfone is albei onder die brug in Ferreirarylaan gevind.
’n Saak van ontvoering en voorgee as polisiebeamptes is by die Parkweg-polisiekantoor geopen. Enigiemand met relevante inligting word gevra om kapt. Sabata Jafta Moseme by 082 5262 713 te bel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]