Brekende Nuus
Afrikaans

Een minuut met Francois van Coke

“Wees braaf, wees gaaf en yolo!"

Een minuut met Francois van Coke. Foto: August Photography
Een minuut met Francois van Coke. Foto: August Photography

Om professioneel musiek te maak, was nooit eintlik vir Francois van Coke ’n opsie nie. Die musikant en hoofsanger van Fokofpolisiekar het op musiek verlief geraak toe hy die eerste keer na Nirvana geluister het. Dit was genoeg om hom sy kitaar te laat optel en besef hy kan ’n loopbaan uit sy sangtalent maak.

Francois verklap hulle het onlangs ’n nuwe Fokofpolisiekar-album opgeneem. “Daar kom nog ’n paar musiekvideo’s vir die enkelsnitte van die album uit.” Verder is hy besig om aan sy vyfde album te skryf wat vroeg in 2025 die lig sal sien.

Liefdadigheid lê hom na aan die hart. Hy hardloop die afgelope twee jaar die Two Oceans-marathon vir die Breadline Afrika-welsynsorganisasie. Sy platforms word gebruik om fondse in te samel vir kinders in nood. 

Aanhangers en kollegas het hom leer ken as vriendelik met ’n skerp humorsin. Hy vertel van die keer toe hy by Oppikoppi-musiekfees ’n boesemvriend oopmond gesoen het nadat hulle mekaar vir die pret geklap het. ’n Verbygaande joernalis het hom gewaarsku dat hulle die foto in die koerant gaan sit. “Ek gee nie om nie, wees ’n man – soen ’n man,” het hy geantwoord.

Die volgende naweek was sy vrou (destydse meisie) en vriende heel geskok toe hulle die foto wel in die koerant sien.

Dit is juis sy vrou en kinders wat sy voete op die aarde hou. “In my huis maak dit nie saak wat ek op die verhoog doen nie.”

Sy raad aan aspirant-musikante en lede van bands is om soveel as moontlik te oefen en tyd aan harde werk te spandeer. “As jy ’n liedjieskrywer is, werk hard aan liedjies skryf. Een song kan jou lewe verander.”

Sy boodskap aan die lesers? “Wees braaf, wees gaaf en YOLO!”

Besoek Francois se sosialemediaplatforms om op hoogte van sy loopbaan en aktiwiteite te bly:

Facebook

X

Instagram

YouTube

TikTok

Francois van Coke Foto: August Photography

Bronne: Francois van Coke, August Photography