Brekende Nuus
Tuis

Covid-19: 70 dae in die hospitaal

Izak du Plessis (65) vertel van die 70 dae wat hy in die hospitaal in Bloemfontein se intensiewesorgeenheid deurgebring het ná hy longontsteking en toe Covid-19 opgedoen het.

“Dis verskriklik. Ek was nou wel in ‘n isolasiesaal, maar ek kon steeds hoor hoe die mense om my sukkel om asem te haal. Hulle het gesoebat vir asem.”

Izak en sy vrou, Ina (65) was Sondag 40 jaar getroud en Izak vertel hoe hulle in dié tyd wat hy in die hospitaal was en hy nie sy alledaagse takies kon doen nie, besef het hoe belangrik dit is dat Ina ook toegang het tot dit wat sy nodig het om alles aan die gang te hou.

Izak is in Junie met ernstige longontsteking hospitaal toe, toe hy benoud begin voel het en gedink het hy het Covid-19 opgedoen. “Ek is in die hospitaal getoets, maar my toets het negatief teruggekom.”

Izak was weens die ernstige longontsteking aan ‘n ventilator gekoppel tot hy uiteindelik, na 41 dae, van die ventilator gespeen is. “Ons het planne gemaak sodat ek rehabilitasie kon ondergaan, want ek kon nie loop of staan nie, omdat ek so lank gelê het.”

Op Izak se 60ste dag in die hospitaal, het hy positief getoets vir Covid-19 en hy is vir 10 dae in die hospitaal gehou om sy isolasietydperk te voltooi.

“Mens lê daar in daai bed,” vertel hy. “Jy weet nie of dit dag of nag is nie en jy hoor net om jou hoe mense sukkel om asem te haal. Ek was toe redelik moedeloos, juis oor ek reeds so lank in die hospitaal was met die longontsteking. Ek het gevoel net nie dit ook nog nie.”

Izak het ná hy positief getoets is vir Covid-19, behandeling met groot hoeveelhede anti-retrovirale middels wat gebruik word om virusse te bestry, kortisoon en ACC 200 gekry. Hy is ook met ‘n bloedverdunner behandel om bloedklonte te voorkom.

Izak vertel hy sukkel nou nog met smaak- en reukverlies ná hy Covid-19 gehad het. Sommige mense se smaak en reuk is gou terug, terwyl ander weer vir maande na die tyd nog daarmee sukkel. Isak word ook gereeld moeg, moontlik ‘n nadraai van Covid-19.

“Voordat ek so siek geraak het, wou ek al gaan vir die Covid-19-inenting,” vertel Izak. Hy het wel nou al sy eerste dosis van die inenting gekry.

Izak se raad aan ander wat ook met Covid-19 gediagnoseer word, is om so gou as moontlik die nodige mediese hulp te kry en nie te lank te wag nie.

“Die rede waarom relatief baie jongmense aan die virus sterf, is omdat hulle glo hulle is sterk en kan die virus sommer by die huis bestry. Kry so gou as moontlik die nodige mediese hulp. Wees eerder oorversigtig.”

Izak vertel hy raak summier ontsteld as hy hoor dat mense nie vir die Covid-19-inenting wil gaan nie en voel ons moet doen wat ons kan om die virus te beveg.

“Ek glo vandag dat ons ‘n groot God dien. By Hom is niks onmoontlik nie. Hy het gebede verhoor en my uit die kake van die dood gered. Alle eer aan ons groot God. Dankie aan almal wat deur gebede en meelewing gedurende dié tyd vir ons as gesin bygestaan het. Ek glo vandag in wonderwerke, want ek is ‘n wandelende voorbeeld.”