Brekende Nuus
Afrikaans

Polisie vra hulp om vermiste dokter op te spoor

Foto: SAPD

LIMPOPO. – Die polisie vra die publiek om te help om dr. Rega Mohammed Tavangar (61), ‘n dokter by Mokopane-hospitaal, wat as vermis aangemeld is, op te spoor.

Volgens polisiewoordvoerder, sers. Maphure Manameladie, is Tavangar op 27 Augustus omstreeks 18:00 laas deur sy lewensmaat gesien, toe hy haar by haar gehuurde kamer in Voortrekkerstraat, Mokopane, afgelaai het. Hy het glo in ’n wit Landwind met registrasienommer KV3VM GP gery en het ’n grys denimbroek, swart sandale en ’n bruin hemp aangehad. Tavangar se lewensmaat het volgens die polisie in die vroeë oggendure van 28 Augustus omstreeks middernag ’n betaling van hom in haar bankrekening ontvang. Sy het hom omstreeks 06:00 gekontak oor haar beursie wat sy vermoedelik in sy voertuig gelos het. Hy het glo gesê hy sal die beursie saam met haar dogter stuur, wat by hom in die Mokopane-hospitaalresidensie gebly het. Geen verdere kommunikasie is daarna van Tavangar ontvang nie en pogings om hom te kontak, was onsuksesvol, aangesien sy selfone glo afgeskakel is.

Mokopane-hospitaal het op 3 September navraag oor sy welstand gedoen nadat hy nie vir diens opgedaag het nie.

’n Vermistepersoonsaak is by Mahwelereng-polisiekantoor geopen. Die polsie ondersoek die omstandighede van Tavangar se verdwyning en probeer vasstel waar hy hom bevind. Enigiemand met inligting wat kan help om Tavangar op te spoor, word gevra om sers. Maesela Ledwaba by 078 914 0087 te bel.