GAUTENG. – Die liggaam van die 38-jarige Elizabeth “Tsontso” Moselakgomo, wat sedert 10 September vermis was, is positief deur haar familie by die Germiston-lykshuis geïdentifiseer. Die bevestiging kom nadat die liggaam van ’n vyfde vrou Maandag gevind is.
Brig. Athlenda Mathe, die nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n aantal sake oor die dood van vroue in die Kempton Park-gebied. Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het haar medelye aan Moselakgomo se familie en geliefdes betuig en belowe dat die polisie alles in sy vermoë sal doen om vas te stel wat met haar gebeur het. “Ons sal nie rus voordat ons die waarheid vasgestel het nie,” het Dimpane gesê.
’n Multidissiplinêre span van speurders en ander gespesialiseerde polisie-eenhede werk intussen aan die ondersoek. Die span ontleed beskikbare bewyse, ondersoek moontlike verbande tussen die sake en volg alle leidrade op. Volgens die polisie ise ‘n verdagte reeds in hetgtenis geneem in verband met die ontdekking van die eerste liggaam in Julie. Hy is steeds in aanhouding.