GAUTENG. – Die polisie het ’n deurbraak gemaak in die moordondersoek na die negende slagoffer in die reeks moordsake waarby vroue in Gauteng betrokke is. Die liggaam van die vrou is op 17 September in Dawn Park, Ekurhuleni, gevind. Drie verdagtes is die naweek in hegtenis geneem. Die vrou is deur die polisie as Jabulile Ntimba geïdentifiseer.
Hierdie geval het die totale aantal liggame van vroue wat oor die voorafgaande twee maande in Ekurhuleni ontdek is, op nege te staan gebring. Die getal het intussen na 10 gestyg. ’n Multidissiplinêre span kundiges is gemobiliseer om aan die sake te werk en te verseker dat diegene wat vir die misdade verantwoordelik is, voor die hof gebring word.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die drie verdagtes in aanhouding is ‘n man en twee vroue. Hulle is die naweek deur lede van die Gautengse moord- en-roof-eenheid in hegtenis geneem. Die drie sal na verwagting vandag nog in die Boksburg-landdroshof verskyn.
Lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, sê die polisie is met al die moordsake besig en dat elkeen as ‘n prioriteit aandag ontvang. Volgens Dimpane volg ondersoekers alle beskikbare leidrade op en werk hulle onverpoos om diegene wat verantwoordelik is, voor die gereg te bring. Verdere besonderhede oor die saak sal vandag in die hof bekend gemaak word.
Die polisie doen ’n beroep op gemeenskapslede met inligting wat die ondersoeke kan help om na vore te kom. Anonieme wenke is welkom en alle inligting sal streng vertroulik hanteer word.