GAUTENG. – Lt.genl. Shadrack Mongo Sibiya (59), die geskorste adjunk- nasionale kommissaris van die SAPD vir misdaadopsporing het vandag op aanklagte van verkragting, mensehandel en seksuele voorbereiding van ‘n kind in die Randburg-landdroshof verskyn. Die generaal staan tereg op vyf aanklagte, waaronder verkragting, mensehandel, die aanmoediging van die seksuele voorbereiding van ’n kind en twee aanklagte van seksuele voorbereiding van ’n kind. Volgens SABC News sal Sibiya by Kgosi Mampuru tronk aangehou word.
Die aanklagte hou verband met beweerde voorvalle tussen 16 Mei en 3 Augustus 2026 en betrek ’n volwasse klaagster en ’n 16-jarige kind. Kaizer Kganyago, nasionale NVG-woordvoerder, sê die staat beweer die kind is deur elektroniese kommunikasie seksueel voorberei, terwyl Sibiya ook verbind word met ’n beweerde verkragtingsvoorval waarby die volwasse klaagster betrokke is. Die mensehandel-aanklag spruit volgens die staat voort uit bewerings waarby drie persone betrokke is. Die staat het om ’n verdaging van sewe dae gevra om ’n formele borgtogaansoek voor te berei en aan te hoor. Die saak is daarvoor tot 29 September uitgestel.
Die staat sal borgtog teenstaan en sy saak volgens die toepaslike regsproses voor die hof stel. Die NVG sê hy bly daartoe verbind om sake sonder vrees, guns of vooroordeel te vervolg, ongeag die posisie of status van ’n beskuldigde.
Sibiya is sedert 2025 geskors hangende ondersoeke wat verband hou met die Madlanga-kommissie en bewerings oor onder meer inmenging in polisie-ondersoeke en die hantering van ondersoekdossiere. Die kommissie het later aanbeveel dat verdere dissiplinêre en strafregtelike stappe teen hom oorweeg word.
Bronne: SAPD, NVG en Madlanga Kommissie