NOORDWES. – Donovan Marx, wat Woensdag (28 Oktober) ernstig in ‘n plaasaanval beseer is, is ná ‘n operasie in ‘n stabiele toestand in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom. Sy familie bedank intussen Suid-Afrikaners vir die oorweldigende stroom van gebede, boodskappe en ondersteuning wat hulle sedert die aanval ontvang het.
Marlene Steyn du Toit, van Steyn du Toit Prokureurs Ingelyf, namens die familie, sê Donovan se pyn het sedert die operasie verbeter, hoewel sy beserings ernstig is. Die familie spreek ook hul dank uit teenoor nooddiens- en mediese personeel, die polisie, plaaslike boere, veiligheidsrolspelers en gemeenskapslede wat hulp verleen het.
Die familie vra dat die publiek nie oor die omstandighede of moontlike motief vir die aanval spekuleer nie en die polisie toelaat om sy ondersoek voort te sit. Hulle versoek ook dat hul privaatheid gerespekteer word en dat besoeke aan Donovan beperk word tot nabye familielede wat vooraf deur Louise, Donovan se vrou, goedgekeur is.
Die familie waarsku verder dat geen persoon of organisasie sonder hul uitdruklike toestemming gemagtig is om in Donovan of Louise se naam geld in te samel, skenkingsveldtogte te begin of openbare inisiatiewe te reël nie. Enige georganiseerde hulpverlening moet vooraf met die familie se gemagtigde verteenwoordigers gekoördineer word.
Mense wat geskenke of pakkies wil afgee, kan vooraf met die familie se prokureurs, Steyn du Toit Ingelyf, reël om dit gedurende kantoorure by hul kantore in Retiefstraat, Potchefstroom, af te lewer.
Enigiemand met inligting oor die aanval word versoek om dit aan die polisie en die familie se regsverteenwoordigers beskikbaar te stel. Die familie waarsku teen eie ondersoeke, inmenging met moontlike getuienis en die verspreiding van onbevestigde inligting.
Louise sê die familie vertrou op die Here vir krag, genesing en herstel en bedank almal wat Donovan in hul gebede dra.