GAUTENG. – Die Tshwane-metropolisie het ’n strafsaak teen ’n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) geopen ná ’n konfrontasie tydens ’n insleepoperasie wat Dinsdag in Visagiestraat in Pretoria se middestad plaasgevind het. Volgens die metropolisie het die weermaglid ’n beampte ontwapen en ’n vuurwapen op beamptes gerig. Die weermag sê hy wag op ’n volledige ondersoekverslag.
Kommissaris YCR Faro, hoof van die Tshwane-metropolisie, vra motoriste en lede van die publiek om tydens wetstoepassingsoperasies met beamptes saam te werk en enige besware deur die toepaslike kanale te opper. Volgens die metropolisie is insleepvoertuie na Visagiestraat tussen Thabo Sehumestraat en Paul Krugerstraat gestuur nadat ’n klagte ontvang is oor voertuie wat na bewering onwettig geparkeer was en die pad versper het.
Die metropolisie sê weermaglede het sy beamptes gekonfronteer toe hulle die voertuie begin wegsleep het. Een weermaglid het na bewering ’n beampte se diensvuurwapen afgeneem en ’n vuurwapen op metropolisiebeamptes gerig. Die beamptes het voortgegaan om die voertuie weg te sleep en die pad oop te maak.
Die SANW sê hy is bewus van ’n video op sosiale media wat glo van die konfrontasie geneem is. Die weermag beskryf die voorval as betreurenswaardig en sê die gedrag van uniformlede aan albei kante, soos dit op die beeldmateriaal voorkom, was onprofessioneel. Volgens die SANW moet die feite eers vasgestel word voordat gevolgtrekkings gemaak word. Hy wag op ’n volledige verslag van die ondersoekowerhede voordat hy verder oor die voorval kommentaar lewer.