VRYSTAAT. – Een verdagte is doodgeskiet en ’n ander gewond in ’n skietery met die polisie op die R82 buite Zamdela nadat sowat sewe mense na bewering op 18 November omstreeks 01:30 ’n kitsbank in Kerkstraat op Koppies opgeblaas het. Die polisie soek steeds na die ander verdagtes.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê beamptes het sowat 10 km buite Zamdela ’n stilstaande motor langs die pad opgemerk. Twee mans het uitgeklim en een het volgens Covane op die beamptes geskiet. Hulle het teruggeskiet. Geen polisiebeampte is beseer nie, maar ’n polisievoertuig is deur koeëls beskadig. Beamptes het op ’n pistool, springstof en ’n onbekende bedrag gevlekte geld beslag gelê. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) was op die toneel.
Die Koppies-polisie ondersoek die ontploffing en diefstal. Die polisie in Zamdela het ’n afsonderlike dossier geopen wat onder meer poging tot moord insluit. Enigiemand met inligting kan lt.kol. James Mahlatsi by 073 453 8990 bel.