KWAZULU-NATAL. – Sewe aangehoudenes is vanoggend (Maandag) beseer toe ‘n polisievangwa wat van Pietermaritzburg na Kokstad onderweg was, op die R56-pad naby Richmond teen ‘n padreling gebots en toe gerol het.
Lt.kol. Robert Netshiunda sê aan Nuusflits sowat vier ander polisievoertuie het die betrokke polisievangwa begelei en het die toneel beveilig. “Meer besonderhede sal op ‘n gepaste tyd bekend gemaak word,” het hy bygevoeg.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê paramedici het verskeie oproepe gekry en het net ná 10:00 na die toneel naby die Eston-afrit gegaan. Hulle het die vangwa op sy dak aangetref. Die sewe aagehoudenes het verskeie beserings opgedoen en is gestabiliseer, voordat hulle met ambulanse na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer is. Volgens Jamieson is polisiebeamptes nie in die ongeluk beseer nie.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





