GAUTENG. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het die klagtes teen Mduduzi Trevor Mnisi, wat tereggestaan het in die moordsaak van die tiener Likhona Fose (14), teruggetrek. Nuwe inligting dui aan dat Mnisis nie die laaste saam met die oorledene gesien is nie.
Fose se verminkte liggaam is op 1 Junie in Durban Deep, Roodepoort, in ‘n oop veld aangetref. Mnisi is in Desember 2018 op parool vrygelaat nadat hy vir poging tot moord en roof met verswarende omstandighede tot 18 jaar tronkstraf gevonnis is.
Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Mnisi het aangevoer dat hy nie die oorledene geken het nie en dat selfoonrekords sou wys hy was op 31 Mei 2025, die dag waarop Fose vermis geraak het, in Daveyton. Die ondersoekbeampte het die alibi op instruksie van die NVG bevestig. Mnisi se selfoon is wel aan ’n sein in Daveyton gekoppel. Verdere verklarings van ander getuies het dié weergawe ondersteun.
Mjonondwane sê voorts die besluit om die klagtes onder die omstandighede terug te trek, is regverdig en verantwoordelik. Die ondersoek duur voort om vas te stel wat op die dag van Fose se dood gebeur het.





