GAUTENG. – Die adjunkskoolhoof (51) van Hoërskool Rivoni in Daveyton is Dinsdag doodgeskiet terwyl hy ‘n vergadering by die Chris Hani Mall bygewoon het.
Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse onderwysdepartement, sê die adjunkhoof het ‘n vergadering oor ‘n saak wat een van sy kollegas behels, bygewoon.
“Die Gautengse departement van onderwys (GDO) betuig sy innige meegevoel met sy familie, kollegas en die hele skoolgemeenskap. Die GDO het psigososiale ondersteuningsdienste beskikbaar gestel vir diegene wat deur hierdie tragedie geraak word.”
Matome Chiloane, die LUR vir onderwys in die provinsie, sê: “Ons is hartseer oor hierdie sinnelose moord op ons toegewyde opvoeder en leier in ons onderwysgemeenskap. Ons innige simpatie is met sy geliefdes gedurende hierdie ongelooflike moeilike tyd.”
Mabona sê die omstandighede van die skietinsident word deur die polisie ondersoek.
Lt.kol. Mavela Masondo sê aan Nuusflits die polisie ondersoek die adjunkhoof se moord. Volgens rapportering het die oorledene die skool met sy voertuig verlaat en iemand by die hek opgelaai. In Vivianrylaan in Daveyton het die adjunkhoof en sy passasier uit die voertuig geklim en ‘n paar meter geloop.
“Dit is toe die oorledene doodgeskiet is. Die polisie is op soek na die passasier wat moontlik met die ondersoek kan help.”
Masondo sê die motief vir die moord kan nie in hierdie stadium bevestig word nie. Enigiemand met inligting wat die polisie met die ondersoek kan help om die verdagte(s) op te spoor, word gevra om na vore te kom.