GAUTENG. – Die korrupsiesaak teen Trevor Mathenjwa, wat met Bosasa verband hou, het Vrydag in die Johannesburg-hooggeregshof voorgekom, waartydens Angelo Agrizzi, die voormalige bedryfshoof van die maatskappy, staatsgetuienis gelewer het.
Volgens Henry Mamothame, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag se direktoraat vir ondersoeke na staatskaping (IDAC), is die staat se hoofgetuienis deur Agrizzi en vier ander belangrike getuies voltooi. Die verdediging het intussen met die kruisondervraging van Agrizzi begin. Die verrigtinge is vir die voortsetting van die kruisondervraging tot 7 April uitgestel. Mathenjwa word van korrupsie aangekla in ’n saak wat met Bosasa verband hou en waarby ’n bedrag van ongeveer R600 000 betrokke is. Die bedrag is na bewering deur Bosasa en sy filiaal, Sondolo IT, as gratifikasie aangebied en ontvang vir die opgradering van veiligheidstelsels by die woning van oorlede Dudu Myeni.
Die Bosasa-saak hou verband met beweerde onreëlmatighede aangaande vier tronktenders, ter waarde van meer as R1.8 miljard, wat glo tussen Augustus 2004 en 2007 aan Bosasa en sy filiale toegeken is. Verskeie voormalige senior amptenare van korrektiewe dienste, asook voormalige Bosasa-bestuurders, staan tereg op aanklagte van bedrog, sameswering om bedrog te pleeg, korrupsie en geldwassery. Bosasa, later bekend as African Global Operations, het na bewering die staatsamptenare en invloedryke individue omgekoop om regeringskontrakte en gunstige behandeling te verkry. Daar is onder meer aantygings dat kontantbetalings, luukse geskenke en dienste as gratifikasie aangebied is in ruil vir toegang tot en invloed oor staatsinstellings.





