Anthonie Bougas is ‘n “wanted person” en sy “aanhoudende kommunikasie” met die media is “absurd”. Só sê Mike Bolhuis, spesialis-ondersoeker van Specialised Security Services (SSS). “Hy is ‘n baie selfvoldane, arrogante, bederfde brokkie.”
Anthonie Bougas, stigter van die nou-gelikwideerde KleuterZone-kleuterskoolgroep, het onlangs in Netwerk 24 beweer dat hy hom in Kanada bevind. Hy wil vir sy gesin ‘n “eerstewêreld-lewensstandaard” bied. Hy het na bewering in Februarie landuit na Thailand gevlug nadat Ryk van Niekerk van Moneyweb vrae begin vra het oor die volhoubaarheid van die Kleuterzone-konsep te midde van vergelykings met ‘n Ponzi-skema.
Bolhuis sê Bougas probeer nou doelbewus aandag van ondersoekers wat op sy spoor is aflei deur vals narratiewe in die media te versprei. “Hy sit heeldag op sy foon en kyk wat oor hom geskryf word. Hy lees alles in die media, alles wat ons sê. Maar hy kan dit weet: ons netwerke strek regoor die wêreld en ons werk ook met Interpol. Hy is ‘n ‘wanted person’. Ons opinie is hy is in Thailand en hy het geskrik.”
Gebruik ander se spaargeld, maar hou voor as slagoffer
Terwyl Bougas voorgee dat hy vir sy familie ’n beter lewe probeer skep, dink hy nie vir een oomblik aan die mense wie se spaargeld hy misbruik het om te vlug nie, sê Bolhuis. “Daardie mense het hul lewenskwaliteit verloor – hulle het finansieel gely, hul aftreebeplanning is daarmee heen en hul drome het in duie gestort. Sommige mense het miljoene rande by hom belê. Mense aan dié kant het alles verloor en die gevolge is astronomies,” sê Bolhuis. “Dis uiters lafhartig dat iemand wat duidelik weet wat hy gedoen het, steeds in die openbaar probeer om homself as ’n slagoffer voor te hou. Hy het mense se geld net eenvoudig gevat en drink en dobbel dit uit. Ek wil nie eens weet wat die man nog in sy persoonlike lewe aanvang nie.”
Baie ‘dom’
Bolhuis verduidelik dat Bougas waarskynlik virtuele telefoonnommers en ander tegnologie gebruik om voor te gee dat hy in ‘n ander land is. “Ons sien dit daagliks – mense gebruik hierdie metodes om hul ligging te verberg. Hy gebruik hierdie nommers om misdade te pleeg, insluitend dreigemente teen individue in Suid-Afrika, maar die oortreding self vind plaas vanuit die land waarin hy hom werklik bevind,” sê Bolhuis. “Wat hy nie besef nie, is wanneer jy in ’n spesifieke land is en vanuit daardie land ’n misdaad pleeg, dan word jy daar ook vervolg. Die klagtes teen hom hoop net op en strek verder as Suid-Afrika. Die tegnologie (om te maak of jy elders is) is iets wat selfs kinders gebruik om poetse op hulle maats te bak,” sê Bolhuis. Hy meen Bougas is baie “dom” om te dink hy gaan daarmee wegkom.
Het al die patroon gesien
Daar is reeds verskeie kriminele klagtes teen Bougas, asook sy broer, John. Bolhuis sê klagtes teen Bougas en sy broer sluit onder meer afpersing, dreigemente met geweld en betrokkenheid by ’n gewapende groep – vermoedelik buitelanders – wat by kliënte se huise opgedaag het om geld te eis, in. “Selfs ek en my span is gedreig. Hierdie storie gaan nie net verdwyn nie. Ons gaan hom kry. As hy nou terugkom en saamwerk, het hy dalk ’n kans op borgtog. Maar as hy eers vasgetrek word, is daardie kans weg. Dan gaan hy tronk toe – sonder borg.”
Klagtes bou op
Ander klagtes sluit in bedrog, die oortreding van die Wet van Kubermisdaad en waarskynlik binnekort ook geldwassery. “Hy het ’n wanvoorstelling gemaak aan mense: ‘Gee vir my jou geld, dit is veilig.’ Maar toe gebruik hy dit vir homself – en dít is diefstal. Dit is die kern van ’n Ponzi-skema. Die waarheid is: hy is ’n selfvoldaande, arrogante en uiters selfsugtige individu. Dis hoe ons hom profile. Hy dink hy is untouchable – dat hy altyd die oorhand het, dat hy slimmer is as almal, insluitend die owerhede,” sê Bolhuis. “Hy is ongevoelig en glo vas dat hy reg is en die res van die wêreld verkeerd.” Bolhuis wys daarop dat hierdie mentaliteit algemeen voorkom by individue wat betrokke is by Ponzi-skemas en finansiële misdade. “Ons het al hierdie patroon gesien – Louis Liebenberg het presies dieselfde gedoen met sy video’s, kommentaar en minagtende optrede. En kyk waar is hy nou: in Pretoria Sentraal se tronk,” sê Bolhuis.
Illusie verbrokkel, geld raak op
Die “illusie” gaan verbrokkel, glo Bolhuis. “Sy optrede strook met ’n patroon van manipulasie, bedrog en uitbuiting. Mense met dié tipe karakter gebruik ander op pad na selfverryking. Hy lieg, steel, bedreig en bou doelbewus vriendskappe bloot om hulpbronne en beskerming te verkry terwyl hy op die vlug is. Maar die geld raak op en dan begin die illusie verbrokkel. Die ‘vriende’ verdwyn en hy sit dan alleen in ’n vreemde land en moet aanhoudend oor sy skouer kyk.” Daar is glo reeds aanduidings dat Bougas se gesondheid agteruit gaan. “Die tronk wag en dit is geen grap nie. Om op die vlug te wees, is nie natuurlik vir die mens nie. Dit vang jou – in jou gesondheid, emosionele toestand, finansies en uiteindelik jou siel. Hy dink hy is vry, maar dié vryheid is ’n illusie.”
Het nog kans om dinge reg te stel
“Die enigste realistiese uitweg is om homself aan die Suid-Afrikaanse owerhede oor te gee. Ons werk reeds saam met internasionale veiligheidsowerhede in verskeie lande om Bougas op te spoor.” Daar is ook bewyse dat Bougas homself moontlik vermom het, kontant gebruik en homself in die laaste maande van sy tyd in Suid-Afrika intensief beywer het om soveel as moontlik geld in te samel deur onwettige en intimiderende middele, sê Bolhuis. Hy glo Bougas het waarskynlik sy voorkoms drasties verander – moontlik sy hare afgeskeer, grimering of selfs ’n pruik gebruik – en vermy doelbewus enige optrede wat aandag kan trek. Hy reis ook met vervalste dokumente en gebruik heel moontlik ‘n ander naam. “Die enigste manier hoe hy ooit weer respek by die publiek sal herwin, is om terug te keer, die vrae te kom beantwoord en as hy onskuldig is, sy naam te kom suiwer. Hy sê die waarheid sal uitkom in die hof, dan moet hy homself in die hof kom verdedig. Maar op die pad wat hy nou loop, is hy besig om sy hele familie se naam permanent te skaad – en die internet vergeet nie. Hy is ‘n lafaard. Dis tragies om te hoor hoe baie mense Bougas se oupa en pa geken het. Mans wat eerbare, gerespekteerde lede van hulle gemeenskappe was. Hy sleep nie net sy eie naam nie, maar die hele Bougas-familienaam deur die modder en dít gaan mense onthou.”
Vriende kan ook aangekla word
Bolhuis sê daar is maniere wat interpol en wetstoepassingsagentskappe tussen lande werk om mense op te spoor. “Ons netwerke regoor die wêreld is baie sterk. Ons werk met plaaslike en internasionale strukture soos banke, hospitale en ander instellings. Hy mag dink hy’s veilig, maar dis net ’n kwessie van tyd. Enige persoon wat hulp aan Anthonie of sy broer verleen, maak hulleself aandadig aan misdaad. Kyk die Liebenberg-storie, almal wat saam met hom in hegtenis geneem is. Ons is al sewe jaar besig met daardie saak. Almal van hulle gaan gevangenisstraf kry, nie Louis of Desi gaan borg kry nie. Anthonie se enigste opsie is om uit sy eie terug te keer. Ons sal hom met regverdigheid hanteer.”
Bom bars oor Kleuterzone
Kleuterzone het beloof om jaarlikse opbrengste van 62.5% te lewer. Die maatskappy is op 14 Mei 2025 onder finale likwidasie geplaas en word as ‘n Ponzi-skema ondersoek. Bougas self is intussen gesekwestreer. Die likwidateurs van KleuterZone het ook ‘n aansoek ingedien om die boedel van Bougas se ouers, Rensche en Anton, te sekwestreer. Hulle beweer dat die ouers saam met hul seun opgetree het om fondse van die maatskappy te verdoesel en te verplaas.
Nuusflits het vrae aan Bougas gerig, maar geen kommunikasie terug ontvang nie. Lees meer oor die verloop van die Kleuterzone-saga hier.
SSS kan hier gekontak word. SSS spesialiseer in ondersoeke van ernstige geweld-, ekonomiese- en kubermisdade.