Ek kan jou sê hoe ek voel: geskok, kwaad, naar, hartseer – en glo dit of nie – hoopvol.
Dit voel asof ek ’n vriend, ’n broer, verloor het. As jy hier lees, ken jy waarskynlik reeds die storie; ek gaan dus nie op die besonderhede in nie.
Charlie Kirk het sy prioriteite in die lewe duidelik gestel: God eerste, dan sy familie, en daarna sy land. Hy was ’n vreeslose gelowige wat opgestaan het vir die Woord van God, ’n toegewyde man vir sy vrou, en ’n liefdevolle pa vir sy twee pragtige kinders.
As stigter van Turning Point USA het hy sy liefde vir mense, veral vir die jeug, en sy passie vir sy land sigbaar gemaak. Hy het openlike debatte op hoërskool-, kollege- en universiteitskampusse gelei en studente die geleentheid gebied om vrae te vra en menings te deel oor sake soos klimaatsverandering, LGBTQ+-regte, wapenbeheer, geloof en gesinswaardes, immigrasie en ras.
Die man wat hom vermoor het, het hom nie stilgekry deur redelike argumente of eerlike debat nie. Hy het eerder tot geweld gedaal. Maar ironies genoeg, het hy sy stem nie stilgemaak nie, maar dit versterk. In sy dood het Charlie Kirk ’n hedendaagse martelaar geword.
Dit herinner my aan Johannes 12:24, waar Jesus sê:
“Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een; maar as dit sterf, bring dit ’n groot oes in.”
En dit is waar my hoop vandaan kom. Ons treur vandag oor hierdie wonderlike koringkorrel wat gesterf het, maar ek glo vas dat dit die begin is van ’n groot beweging. Miljoene mense, nie net in Amerika nie, maar reg oor die wêreld, gaan wakker word en terugkeer na die lewende God van hemel en aarde.
Selfs sy organisasie se naam, Turning Point, klink profeties in hierdie konteks: sy dood kan inderdaad die draaipunt wees in ontelbare lewens.
“Mooi so, goeie en getroue dienskneg. Oor weinig was jy getrou; oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in, in die vreugde van jou Heer.”






3 Responses
Sy jong lewe is gesteel, maar hy sal voortleef vir sy geloof en waardes. Ons het ‘n geloofsbroer verloor. Dis tyd dat ons ophou stilbly oor ons Lewende God.
Wat n ongelooflike pragtige man wat met deernis en respek die jeug se vrae en bekommernisse hanteer het.
Hy het nooit afgewyk van sy geloof en het altyd sy antwoorde uit die Bybel skrif gaan haal.
Die herlewing wat wêreldwyd plaasvind is wat ons nou nodig het in n ontsettende verwarde wêreld.
Dankie Charlie Kirk.
Bitter baie mense maak baie aannames oor hom sonder om self te luister wat hy sê. En as hulle hom nie verstaan of nie saamstem dan word hy dinge genoem. Min wetend dat hy alle mense probeer help het dat hulle ook die lig kan sien en gered kan word.
Charlie Kirk was eerbaar, hyt geglo en vasgestaan op wat hy geglo het. Hyt baie mense na Jesus gelei en sy dood lei nogsteeds baie mense na die Here.
Hy was ‘n voorbeeld vir die Christelike man en hy sal vir altyd wees.