Brekende Nuus
Misdaad

Bafana Mahungela skuldig aan moord op onderwyseres Kirsten Kluyts

Kirsten Kluyts
Foto's: Delta Park en Channel N-TV

GAUTENG. – Bafana Mahungela (23) is skuldig bevind aan die moord op die Sandton-onderwyseres Kirsten Kluyts, wat in Oktober 2023 vermoor is toe sy in George Lea Park in Sandton gedraf het.

Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê Mahungela is deur die Johannesburgse hooggeregshof skuldig bevind aan moord, ontvoering, poging tot verkragting en die verydeling van die regspleging. Staatsadvokate Siyabonga Futshana en Leisha Surendra het die vervolging gelei en volgens die NVG omvattende getuienis aangebied, insluitend bewyse oor Mahungela se bewegings op die dag van die voorval, asook forensiese en ander stawende getuienis.

Die staat het ook verskeie deskundige getuies geroep. Die hof het bevind dat hoewel die saak grootliks op omstandigheidsgetuienis berus het, die getuienis in geheel Mahungela se skuld bo redelike twyfel bewys het. Die hof het ook bevind dat videomateriaal wat deur die staat aangebied is, behoorlik geverifieer en dus toelaatbaar was. ’n Deskundige op die gebied van gesigsvergelyking het Mahungela geïdentifiseer as die persoon wat in die videomateriaal verskyn.

Die NVG het die vervolgingspan vir sy deeglike voorbereiding en aanbieding van die staat se saak geprys. Vonnisverrigtinge sal op 27 Oktober 2026 plaasvind.