Bayer (Edms.) Bpk., in samewerking met die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukreguleerder (SAHPRA), het ‘n landwye Klas II Tipe A-herroeping van YAZ PLUS voorbehoedpille aangekondig. Die herroeping raak lotnommer WEW96J, met ‘n vervaldatum van Maart 2026, as gevolg van ‘n fout in die verpakking van die tablette.
Volgens Bayer se amptelike kennisgewing spruit die herroeping uit ‘n verpakkingsfout wat die volgorde van hormoonbevattende en hormoonvrye tablette ontwrig het. Die fout het daartoe gelei dat sommige verpakkings 24 ligoranje hormoonvrye tablette en slegs vier pienk tablette met hormone, bevat, in plaas van die voorgeskrewe 24 hormoontablette en vier hormoonvrye tablette.
Die maatskappy het gewaarsku dat hierdie fout die voorbehoedingseffek van die medikasie aansienlik kan verminder, wat die risiko van onvoorsiene swangerskappe verhoog.
Bayer het beklemtoon dat die herroeping ‘n voorsorgmaatreël is en van toepassing is op alle verskaffers, verspreiders, apteke, gesondheidsorgverskaffers en individuele gebruikers.
Geaffekteerde voorraad moet terugbesorg word aan die oorspronklike verskaffer of verspreider vir krediet. Bayer het gesondheidsorgverskaffers versoek om die herroepingskennisgewing vir een maand op ‘n sigbare plek te hou om seker te maak dat die boodskap by almal in die voorsieningsketting uitkom.
Eric Chauke, reguleringsakehoof by Bayer Suid-Afrika, het die publiek verseker dat die maatskappy toegewy is aan pasiëntveiligheid. “Ons neem hierdie saak baie ernstig op en versoek alle kliënte en gesondheidsorgverskaffers om onmiddellik op te tree. Ons spanne is beskikbaar om verdere inligting of ondersteuning te bied waar nodig.”
Individue wat YAZ PLUS van die geaffekteerde lotnommer gebruik, word aangeraai om die gebruik onmiddellik te staak en hul gesondheidsorgverskaffer te raadpleeg vir alternatiewe voorbehoedopsies. Die foutiewe pakkies kan geïdentifiseer word deur die volgorde van tablette in die verpakking te ondersoek, soos aangedui in Bayer se herroepingskennisgewing.
Nuusflits het ‘n navraag aan Bayer vir meer inligting gestuur.






