Brekende Nuus
Afrikaans

Bejaarde (81) sterf in plaasaanval

Foto: Ter illustrasie Canva
Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – ‘n Bejaarde boer (81) het Saterdag in ‘n plaasaanval in die Cullinan-polisiëringsarea gesterf. Sy vrou is ernstig tydens die voorval beseer.

AO Johan van Dyk, distrikspolisiewoordvoerder, sê Cullinan-polisie is na ‘n klagte van ‘n plaasaanval ontbied. Met aankoms is die oorledene met kopbeserings in ‘n plas bloed aangetref. Sy vrou, wat ernstig beseer is, was besig om mediese hulp te ontvang.

“‘n Getuie het gesê dat hy vinnig na die oorledene se woning gery het, nadat hy ‘n oproep van die oorledene se dogter gekry het om te sê haar ouers antwoord nie hul fone nie. Sy het vermoed dat iets dalk gebeur het, omdat dit ongewoon is dat hulle nie die fone antwoord nie.”

Met aankoms het die getuie die oorledene en sy beseerde vrou in die huis aangetref. Van Dyk sê die motief vir die aanval is onbekend. Dit is ook nie seker of enige besittings gesteel is nie.

“‘n Saak van moord en huisroof is vir ondersoek geopen en alle leidrade word ondersoek.”

Enigiemand met inligting word gevra om die polisie te kontak sodat die skuldiges aanspreeklik gehou kan word.