KWAZULU-NATAL. – Patricia Curtis (75), wat in Glenwood, Durban, woon, herstel tans na ‘n beweerde aanval van haar huiswerker, waarna sy ‘n operasie moes ondergaan.
Brad Nathanson Investigations sê Curtis het glo items in haar kluis vermis en het haar huiswerker op 21 Februarie gekonfronteer. Curtis het glo gesê haar huiswerker moet huis toe gaan en oorweeg om die items wat vermis is, terug te bring.
Die huiswerker het op 24 Februarie by Curtis se huis opgedaag en glo gevra hulle moet saam in die kluis kyk. Na bewering is Curtis van agter oorval toe sy haar rug op die huiswerker draai. Sy is vasgebind en deur die kombuis gesleep, waartydens ‘n lap met ‘n skoonmaakmiddel in haar mond gedruk is. Die middel op die lap het Curtis se mond en keel gebrand, wat veroorsaak het dat sy agterna mediese hulp in ‘n hospitaal moes kry.
Nathanson bevestig die huiswerker, ‘n Zimbabwiese burger, was reeds agt jaar in Curtis se diens. ‘n Saak is by Umbilo-polisiestasie aangemeld.
Die huiswerker se naam en ‘n foto is deur Nathanson bekendgemaak en enigiemand met relevante inligting kan hom by 083 250 2007 bel.
Nuusflits kan volgens die strafproseswet nie die naam en foto van ‘n verdagte deel, alvorens die verdagte nie ‘n eerste verskyning in die hof gemaak en op die aanklagte gepleit het nie.
Bron: Brad Nathanson Investigations





